Welcome
Login / Register

Die guerillategniek van die bittereinders tydens die Anglo-Boereoorlog

Net ná die val van Pretoria het die Transvaalse militêre leierskorps onmiddellike oorgawe aanbeveel. President Steyn was woedend en het aan die Transvalers geskryf dat die ZAR die Vrystaatse burgers en Kaapse rebelle in 'n rampspoedige oorlog betrek het. "Wil die ZAR nou 'n skandelike en selfsugtige vrede sluit die oomblik dat die oorlog sy grense bereik? Wat die ZAR ook al doen, die Vrystaters sal tot die bitter einde veg." Die geveg is toe deur almal voortgesit.

In hierdie tydperk was die Boeregeneraals mense wat progressief was: kommersiële boere en professionele aambagslui. Hulle het net om een rede geveg: hul onafhanklikheid. Die bittereinders het guerillataktiek gevolg en in klein, beweeglike kommando's geveg. Hulle het treinspore gesaboteer, die voorrade van die Britse troepe onderskep en gevegte uitgelok en dan weer gevlug.

In hierdie tydperk was daar ook die sogenaamde "joiners". Dit was Boere wat hoofsaaklik as spioene vir die Britte opgetree het in die laaste 18 maande van die oorlog. Daar is geskat dat 5 000 Boere teen April 1902 die Britse oorlogspoging gesteun het. Baie Boere het die Britse saak gesteun omdat hulle geglo het dat daar vir hulle 'n beter bedeling onder die Britte wag en dat hulle na hulle plase kon terugkeer en groot skade en leed kon vermy deur oor te gee of te "hensop".

Die Britse opperbevel het van twee taktieke gebruik gemaak om die bittereinders te beveg. Eerstens is linies blokhuise en doringdraad opgerig om Boerevegters uit die een distrik na die ander uit te sluit, om hulle sodoende saam te hok om gevang te word. Hierdie taktiek was baie duur en hoewel baie dramaties, kon dit geen groot gevegte tussen die Boere wat die prooi was en Britse jagters uitlok nie.

Die tweede taktiek wat gebruik was, die Verskroeideaardebeleid, het berus op die vernietiging van die Boere se voorraadbasis deur hul plase te vernietig en die Boere se vrouens en kinders in konsentrasiekampe saam te hok. Vlugtelingkampe wat verplaaste Boerefamilies moes huisves het so vroeg as Julie 1900 verskyn.

Smuts (in die middel op 'n rots) saam met manskappe nadat hulle naby aan die
einde van die Tweede Vryheidsoorlog tot in die Kaapkolonie opgeruk het.


Post your comment

Sign in or sign up to post comments.

Comments

Be the first to comment

Related Articles

RSS