Die eerste fase van die Anglo-Boereoorlog

Die eerste skote in die oorlog het op 12 Oktober 1899 geklap nadat Brittanje die ultimatum van die Boererepublieke verwerp het. Die Boere het tot die aanval oorgegaan en 'n strook van 160 km in die Kaapkolonie ingeneem terwyl hulle in Natal tot teenaan die Tugelarivier gevorder het. Mafeking en Kimberley het Britse eilande in 'n Boergedomineerde veld geword, terwyl die Britse garnisoen in Natal by Ladysmith vasgekeer en beleër is. Die Britse leër het in verskeie veldslae tweede gekom. Op 11 Desember is 'n frontaanval deur Britse soldate wat deur artillerievuur ondersteun is, afgemaai deur Boere wat hulself in loopgrawe ingegrawe het by Magersfontein naby Kimberley. Op 15 Desember by Colenso het 4 000 Boere, ingegrawe in die hoogtes op die Noordelike oewer van die Tugela, 'n aanval van 16 000 Britte afgeweer wat wou deurbreek na Ladysmith. Hierdie vyf dae is deur die Britse magte die Swart Week genoem. In hierdie tydperk het hulle 7 000 manskappe verloor en geen positiewe strategiese resultate gekry nie.

Smuts sou egter later melding maak van die "konserwatiewe kortsigtigheid" van die ouer geslag van generaals, wat "die gulde geleentheid" van oorwinning laat wegglip het. Britse troepe het deur Kaapstad en Durban ingestroom. Onder die opperbevel van lord Roberts, wat generaal Kitchener as stafhoof gehad het, het die Britse versterkings vinnig na die front beweeg en die beleërde dorpe ontset. Hulle het 4 000 man onder generaal Piet Cronje by Paardeberg gevange geneem en Bloemfontein op 13 Maart1900Johannesburg op 5 Mei en Pretoria op 6 Junie ingeneem.

Op 21 Oktober 1900, net voordat die Britte hom kon vang, het president Kruger, van Delagoabaai, vandag Maputo in Mosambiek, na Europa vertrek om steun vir die Boere se saak te probeer werf. Hy het meer as drie jaar later as banneling in Switserland gesterf. President Steyn het tot aan die einde van die oorlog saam met die Vrystaatse guerrillavegters in die veld gebly en die grootste bittereinder geword. Die republieke was verlore. Op 24 Mei en 1 September het Brittanje die administrasie van onderskeidelik die Oranjerivierkolonie en die kolonie van Transvaal oorgeneem. Britse magte het al die infrastruktuur in Suid-Afrika soos die spoorlyne beheer en die 20 000 vegtende Boere wat oorgebly het, was feitelik heeltemal sonder steun.

Sign in or sign up to post comments.
Be the first to comment

Related Articles

Latest Articles

Most Popular

  • Antjie Somers
    Antjie Somers
    Antjie Somersis 'nSuid-Afrikaanselegende van 'n man wat bedags teen die hange vanTafelbergwoon, maar hom snags as 'n vrou...
  • Wolraad Woltemade
    Wolraad Woltemade (gebore Woltemathe, na Woltemade verhollands) is in 1708 in Hesse-Schaumburg gebore. Sy naam verskyn vir die...
  • Die Vlieënde Hollander
    Die is 'n beroemde seelegende van die Kaap. Volgens oorlewering het kaptein Henderik van der Decken in die 17de eeu in 'n...
  • Racheltjie de Beer
    Die legende Volgens legende was Racheltjie deel van 'n trek van die Oranje-Vrystaat na die Suidoos-Transvaal. Tydens 'n...
  • Beskuit
    Beskuit
    Beskuit is iets waarmee 'n mens grootword en dis amper ondenkbaar dat daar nie orals in die wêreld beskuit is nie. Dit is...