Op reis deur Markus | Oordenking #5 | 01 Desember 2020

134 Views
Published
MUSIEK:
Psalm 23 (Surely Goodness, Surely Mercy) - Shane & Shane Psalms, Vol 2
2015 Wellhouse Records

&

Carry me slowly
Jameson Nathan Jones

Welkom by die laaste digitale kapel vir 2020 van die Andrew Murray-Sentrum vir Spiritualiteit. Dis die seisoen van Advent – ‘n tyd van voorbereiding op die koms van die Christuskind, ‘n tyd waarin ons die kuns van ‘wag’ en ‘verwagting’ aanleer. Sit gemaklik, maak jou oë toe en haal ‘n paar keer diep asem – totdat jou liggaam ontspanne is en jy ingestem is om God se woorde te ontvang. Ons rond vandag ons kort reis van die afgelope maand deur die Markus-evangelie af deur op die oop einde van Markus se verhaal te fokus.
In Markus 15 word vertel hoe Jesus deur die Romeinse prokurator Pontius Pilatus oorgelewer is om gekruisig te word. Die soldate lei Jesus weg. Hulle slaan hom met ‘n riet oor die kop en spoeg op hom. Dan word Hy saam met twee rowers gekruisig. Ook húlle beledig hom, terwyl ver-bygangers én die leierpriesters en skrifkenners hom laster en spot (vv29-32). As Jesus sy asem uitblaas, merk ‘n Romeinse offisier van alle mense op, ‘Waarlik, hierdie man was die Seun van God’ (v39). Toe het hulle sy liggaam in ‘n rotsgraf neergelê. Ek lees Markus 16:1-8 uit die 2020-Vertaling: “Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop sodat hulle Hom kon gaan salf. Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. Hulle sê toe vir mekaar: ‘Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?’ Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was ‘n baie groot klip. Toe hulle die graf binnegaan, het hulle ‘n jong man met ‘n lang wit stola om aan die regterkant sien sit, en hulle was ontsteld. Maar hy sê vir hulle: ‘Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.”
Hier eindig die Markus-evangelie volgens die oudste manuskripte (16:8). Op ‘n noot van vrees en bewing. Vroeër het Jesus mense stilgemaak en verbied om oor hom te praat (1:44; 5:43; 8:30), waarskynlik omdat hulle nie verstaan het waaroor dit gaan nie. Noudat die volle drama ontvou het en hulle veronderstel is om beter te verstaan, word hulle genooi om van hom te gaan vertel. Maar ironies, en tipies menslik, is hulle te bang om iets te sê. Die dissipels het Jesus in die steek gelaat. Die vroue is verbysterd en met stomheid geslaan. En in hierdie gespanne stilte los Markus sy gehoor. Nét hulle kan nou nog ‘n verskil maak, die storie verder neem… Want, soos die heel eerste sin van die Markus-verhaal getuig, was hierdie 16 hoofstukke slegs “die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God” (1:1).
Jy word genooi om ‘n karakter in die drama van die Markus-evangelie te word en die verhaal verder te skryf. Gebruik jou verbeelding en neem jou tyd om hieroor na te dink…
Sal ons bid? Wonderbare God, Jesus se oop graf sluit vir ons die toekoms oop, met nuwe lewens-moontlikhede reeds hier en nou. Te midde van soveel broosheid in ons wêreld, ook in ons persoonlike lewens, gee U vir ons hoop.
Ek groet jou met die bede dat die opgestane Here vandag, en in hierdie nuwe seisoen, mét jou sal wees, en jou sal inspireer om die blye nuus oor hom verder te neem. AMEN
Category
Francois van Coke
Sign in or sign up to post comments.
Be the first to comment